Die tiende Merino Classic, wat vanjaar op Richmond in die Noord-Kaap aangebied is, was weer ’n vertoonvenster van die beste Merino’s in Suid-Afrika.
Volgens mnr. Danie Vorster van Merino SA was daar vanjaar 29 vertoners, wat 603 skape vertoon het.
Deelnemers was hoofsaaklik van die omgewing, maar ander het uit die Suid-Kaap, Oos-Kaap en so ver as Loeriesfontein in die Noord-Kaap gekom.
Mnr. Toit Wessels, aankondiger van die Merino Classic, sê vanjaar se Classic was een van die mees geslaagde Classics tot dusver. Dit gaan nie oor getalle nie, maar eerder oor die gehalte skaap wat vertoon is.
“Ek glo die gehalte skaap was bogemiddeld. Hier is topramme en -ooie ten toon gestel. Ten spyte van die droogte wat ons tans beleef, was die skape steeds van hoogstaande gehalte.”
Volgens Keith Coetzee, hoofbeampte van die skou se beoordelaars, is hy beïndruk deur die goeie gehalte van die skape en was die gees by die skou baie goed. Hy is dankbaar vir die goeie ondersteuning van besoekers.
Vier kategorië is op die skou beoordeel, naamlik kudde, kortwol, langwol en die spesiale kampioenskappe.
’n Ooi van mnr. Grant Naudé, van die Nitique-boerdery by Hanover, is aangewys as die grootkampioenooi. Die grootkampioenram behoort aan mnr. Stefan Naudé se Geelbek-Elite-stoetery, ook van Hanover.
Lees die volledige artikel op Landbou.com