Prys van Lewendehawe Gehandhaaf

Wool Market Report – 5 December 2018
December 6, 2018
Australian wool production impacted
December 11, 2018

Die wêreld van lewendehaweverkope in Suid-Afrika lyk goed en boere kan positief wees oor die jaar wat voorlê ten spyte van die uitdagings wat die droogte die afgelope twee jaar gebring het. Dit is die mening van dr. Cobus Oberholster, hoofbestuurder: lewende hawe- en eiendomme-bemarking van BKB. “Soos voorspel, het die prys van lewende hawe homself vanjaar gehandhaaf soos die vorige jaar, so ook die volumes. Daar kom nog baie diere deur die veilingstelsel en dit gaan eintlik nog baie goed,” sê Oberholster.

Tradisioneel het Suid-Afrika 20 miljoen ooie en 13 miljoen koeie. Die droogte van twee jaar gelede het die getalle geweldig verminder. Oberholster sê daar is baie keer baie goeie getalle op veilings, maar dit is soms steeds van boere wat kontantvloeidruk het weens die droogte.

Hy sê as ’n mens kyk na kommersiële diere vir die jaar vorentoe, behoort daar nie drastiese stygings in pryse te wees nie. Daar sal vir seker ook nie ’n daling gesien word nie. Hy voer ’n paar redes daarvoor aan, naamlik dat Suid-Afrika se kuddeboufase baie langer gaan duur as wat ons almal verwag het.

“Die slim mense sê vir my die beeskuddebou kan vier tot vyf jaar duur, selfs sewe jaar. En die skaapkuddebou kan dalk ’n bietjie vinniger wees omdat daar baie meer intensiewe stelsels in werking kom.” Hy sê die binneland se vraag na vleis is steeds goed en dra by tot die stabiele prys wat vir 2019 verwag kan word. “Ons moet nooit vergeet nie dat twee jaar gelede, toe ons so ’n klomp diere geslag het, het die binnelandse mark al daardie vleis geakkommodeer. Dit is ’n baie goeie teken.” Die vierde rede vir die stabiele prys is die begin van uitvoer en protokolle wat in plek kom.

Oberholster sê op die duur is daar ’n kans dat pryse wel kan styg. “As jy gaan kyk na die Buro vir Voedsel-en-landboubeleid (BFAP) se vooruitskattings vir die volgende tien jaar vir die vraag na skaapvleis, toon dit ’n 11%-toename terwyl beesvleis ’n 24%-toename toon. Ons sal in 2019 ook oor die algemeen ’n positiewe ekonomiese groei in Suid-Afrika sien en dit sal deurspoel na die verbruiker toe.” Hy meen goeie pryse sal gehandhaaf word en ons sal nie enige dramatiese val in pryse sien nie.

Wat die bemarking van lewende hawe betref, sê hy: “As ’n mens so na die getalle kyk, raak die veilingstelsel ook weer gesog as ’n deursigtige prysmeganisme in die land, ook by skaapboere. ’n Ander merkbare tendens is dat getalle by veilings toeneem. Dit is niks snaaks meer om ’n stoetveiling te sien met ’n geweldige kommersiële komponent daarby nie. Ons as BKB begin al hoe meer makroveilings hou. Ons hou binnekort ’n paar veilings waarvan die minimum 3 000 en die maksimum 10 000 op een veiling is.”

 

Bron: Netwerk 24

Do NOT follow this link or you will be banned from the site!