Lesotho’s wool exports in jeopardy

Wagyu Auction exceeds all records
September 10, 2018
Rekord veilingspryse wys vraag bly hoog
September 17, 2018

’n Afvaardiging uit Lesotho het onlangs ’n feitesending na Port Elizabeth onderneem nadat dié land verlede jaar ’n verbod op die uitvoer van wol en bokhaar geplaas het. Die afvaardiging het bestaan uit die Lesotho-koningshuis, parlementariërs, belanghebbendes by die bedryf en lede van die media. In Mei vanjaar is in Lesotho se Staatskoerant regulasies afgekondig wat bepaal dat alle wol en bokhaar in Lesotho self verkoop moet word.

Die produkte kan slegs met die regte permit van Lesotho se ministerie van kleinsake, koöperasies en bemarking uitgevoer word. Ingevolge die regulasies sal boere alle vesel regstreeks aan die plaaslike koper verkoop, wat die middelman, soos BKB, uitskakel. Die regulasies word tans in Lesotho se parlement hersien.

Volgens prins Seeiso Bereng Seeiso van Lesotho is boere nie geraadpleeg met die opstel van die regulasies nie. Baie boere hou nou in protes hul wol terug. Die enigste koper in Lesotho is die Lesotho-wolsentrum, ’n gesamentlike onderneming tussen plaaslike sakemanne en ’n Chinese sakeman, mnr. Stone Shi. Mnr. Selibe Mochoboroane, ’n lid van die Lesotho se parlement, sê die land nie die infrastruktuur om al die vesel te kan hanteer nie. “Daar is tans geen manier hoe boere in Lesotho mededingende pryse vir wol kan kry nie.

Daar is nie die nodige infrastruktuur waar wol en bokhaar getoets kan word of waar op die wol gebie kan word nie. Die regering is bankrot en het nie die vermoë om die infrastruktuur op te rig nie.” Mnr. Isak Staats, hoofbestuurder by BKB se wol-en-bokhaarafdeling, sê dié verkoopsproses sluit geen vaste formule of internasionale mededinging in nie. Daar is genoeg bewyse dat die Suid-Afrikaanse wolstelsel werk, “want ons het die skaalekonomie”.

Verdraaide feite BKB was die afgelope 40 jaar tot met die instel van die verbod die hoofmakelaar van Lesotho se wol en bokhaar. Sedert die verbod is sy bankrekening by die Standard Lesotho Bank, wat gebruik word om die boere te betaal, gevries nadat die maatskappy beskuldig is van belastingontduiking, geldwassery en die finansiering van terrorisme. Staats sê die rekening is ná ’n regsproses ontvries. Alle bedrywighede van die maatskappy binne Lesotho is volkome wettig.

Hy sê verskeie boere het al hofsake gewen sodat hulle wol kan uitvoer, maar die regering eerbiedig nie tans die hofuitsprake nie. Volgens die Lesotho Times kan enigeen wat die huidige regulasies oortree, tronkstraf van tussen twee en vyf jaar of boetes van LSL20 000 tot LSL50 000 opgelê word (1 Lesotho-luti = R 1,05). Prins Seeiso, wat self boer, sê hy is teleurgesteld dat die huidige veldtog vir die plaaslike verkoop en verwerking van vesel eerder polities as ekonomies gedrewe is. “Dit is jammer, want daar is baie boere wat alleenlik op hierdie woltjeks staatmaak as bron van inkomste. Jy kan nie mense laat honger ly om hulle onderdanig te maak nie.”

’n Groot persentasie van die land se werksmag is bestaansboere. Wol en bokhaar is een van die min maniere hoe boere hul eie inkomste kan genereer. Hy sê hoewel daar ’n groot wolpakhuis by Thaba Boshiu opgerig is, vind daar tans geen aktiwiteite plaas nie, want die koper het nie die vermoë om wol te koop of te verwerk nie. Nadeel vir SA Staats sê as Lesotho se vesel uit die Suid-Afrikaanse wolstelsel gehaal word, kan dit verskeie nadele hê.

“Lesotho lewer omtrent 10% van die Suider-Afrikaanse wolskeersel en 30% van die bokhaarskeersel. Die meulens is in gevaar as volumes onvoldoende is en by makelaars raak die koste per eenheid duurder.” Volgens prins Seeiso het hulle verskeie insigte uit die besoek bekom. Die inligting gaan gebruik word om druk op Lesotho se regering uit die oefen om die regulasies te verander en boere se behoeftes in ag te neem.

 

Bron: Landbou.com