Landbou-ekonomie Skitter

Immunise in time for rainy season
December 5, 2017
Mohair Market 6 December
December 6, 2017

Landbou-ekonomie Skitter in die Derde Kwartaal

 

Die Landbou was in die derde kwartaal vanjaar ‘n uitblinker in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Volgens Statistieke SA het die sektor vir landbou, bosbou en visserye met 44,2% gegroei, die grootste kwartaallikse groei sedert 1996.

Die land se bruto binnelandse produk (BBP) het op ‘n kwartaalgrondslag met 2% gegroei en op ‘n jaargrondslag met 0,8%. Statistieke SA sê landbou, bosbou en visserye se bydrae tot die groei in die nasionale BBP was 0,9 persentasiepunt.

Die mynbedryf het met 6,6% gegroei en die vervaardigingsbedryf met 4,3%.

Mnr. Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Agbiz, sê ná die landbou se kwartaallikse groei van 38,7% in die tweede kwartaal vanjaar is verwag dat dit in die derde kwartaal matige groei van sowat 25% sou toon.

“Die voorgesette sterk groei kan toegeskryf word aan goeie landbou-uitsette in die 2016-’17-somerproduksiejaar, wat handel ‘n hupstoot gegee het.” In dié produksiejaar het die produksie van somergrane, oliesade en vrugte sterk gegroei en het die lewendehawebedryf gerstel, wat tot stewige uitvoer gelei het.

Beter verwagtinge

Sihlobo sê gewoonlik is Agbiz en die Nywerheidontwikkelingskorporasie se sakevertroue-indeks ’n goeie, leidende aanduider van die landbou-BBP. Die onlangse daling in vertroue gaan dalk dié keer nie tot ’n soortgelyke daling in die landbou-BBP lei nie, sê hy. Dit sal aan onlangse beter verwagtinge vir weerstoestande in die somerproduksiegebiede te danke wees, wat nog nie ten volle in die vertroue-indeks weerspieël word nie. Verder het die droogte in die Wes-Kaap ’n groot rol in swakker sakevertroue gespeel. Sihlobo sê die landbousektor kan nog ’n tyd lank bly groei omdat boere beoog om in die 2017’-18-produksiejaar die oppervlakte onder gewasse met 43 400 ha tot 4,03 miljoen ha te vergroot. Dié optimisme is danksy vooruitsigte van goeie reën en beter prysmededingendheid vir sekere kommoditeite.

 

Bron: Netwerk24

Foto: Alani Janeke