Caledon jong ooie in goeie kondisie

verskaffers
Verskaffers en takke vereer
September 11, 2017
BKB
Wool Market 14 September
September 14, 2017
Caledon

Altesaam 6 Merino- en 14 Dohne Merino-kuddes het op 14, 15 en 21 Augustus vanjaar aan die kudde-evaluasies by Caledon deelgeneem. Die beoordelaars, Frans Hugo van CMW en Pieter du Plessis van BKB, het 25 ooie uit elke deelnemer se ooikudde gekies en geëvalueer. Ten spyte van ’n droë jaar was die jong ooie in uitstekende kondisie.

 

Die Merino-ooi met die beste wol is uit die proefkudde van Carel le Roux van Roodebloem, terwyl een uit sy kontrolekudde as naaswenner aangewys is. ’n Ooi van Kobus Wessels van Schildskloof, Rietpoel, was derde. ’n Merino-ooi van dr George de Kock van Driefontein was die wenner in die GDT-kategorie met ’n gemiddelde toename van 139,3g/dag. Die ooi met die beste bouvorm kom uit die kudde van Johannes du Toit van Remkuil.

Caledon

Die Dohne Merino-wenner kom uit die kudde van Peter Delport van Franskraal met die naaswenner Geo Muller van Soetmelksvlei, Greyton, en ’n ooi van Stefan Badenhorst van Kleine Wolwegat derde. Die Dohne Merino-ooi met die beste bouvorm kom van die Lemoenskop-boerdery (Dassiefontein) en een van Josias le Roux van Langhoogte se ooie het die beste GDT van 180g/dag.

 

Caledon-inligtingsdag

As uitvloeisel van die kuddekompetisie is ’n geslaagde inligtingsdag op die plaas Roodebloem van Carel le Roux naby Caledon gehou. ’n Predasiespesialis, Niel Viljoen, het prakties gedemonstreer hoe om ’n rooikat-vanghok te stel en die ongeveer 115 boere oor predasiebestuur ingelig. Die onbekende meganisme van wolverhandeling op die JSE is deur Hans Smit van Agribase-group verduidelik.

 

Bertie de Wet van Meadow Voere het verslag gedoen oor die vordering met ’n langtermyn-proef op Roodebloem, waar jong ooie ad lib gevoer word vir beter reproduksie.

 

Jannie Fourie, produksie-adviseur van die NWKV in die Wes-Kaap, het waardevolle inligting gedeel oor hoe graan- en veeboerdery met mekaar versoen kan word vir meer wins, onder andere om ’n gesonde graan/veeverhouding van 60/40 of selfs 50/50 te handhaaf en gevare van hoë huur en risiko’s in graanverbouing uit te skakel. Die waarde van skape in ’n boerdery is weer bevestig.

 

Hy het boere aangemoedig om by studiegroepe in te skakel, waar alles gemeet en huidige tegnologie kan help om te bepaal watter dier, kamp, kultivar, doseermiddel, dip en metode van bewerking op ’n plaas die beste werk. Die doel moet wees om met so min as moontlik weiding en voer, die maksimum wol en vleis/teelooie te produseer.

 

Om ’n blink toekoms in die Overberg te verseker, sê Fourie boere moet hul risiko’s verlaag en ’n balans op die plaas bewerkstellig wat vir hulle die beste gaan werk.

 

Bron: AgriOrbit