Hoëdruk-wisselweiding

Veilingspryse vir Robvaal
July 5, 2018
Veilingsnuus: Gesamentlike Bovelders
July 12, 2018

Belê vir toekomstige geslagte met volgehoue hoëdruk-wisselweiding

’n Goeie vriend het destyds vir Doug Dohne Merino-ramme geleen. Hy kon reeds ná die eerste kruising ’n groot verandering in die ras en met hul voedingsomskakeling sien, waarna hy stelselmatig na die ras oorgeskakel het. Die lammers word op twee en ’n half maande gespeen en drie tot vier maande later as stoorlammers verkoop, met ’n gemiddelde gewig van sowat 32kg.

Hoëdruk-wisselweiding op ’n plaas gaan hand aan hand met ’n weldeurdagte beweidingsplan wat die natuurlike bronne van die veld reg bestuur. Dit is die mening van Doug Stern, Agri Oos-Kaap se president, wat op die plase Rietpoort en Quaggasvlei boer. Dié plase is in die omgewing van Nieu-Bethesda, op die bekende Uilroete, en in die Sneeuberge noord van Graaff-Reinet.

Veeplaas het op Rietpoort by Doug, wat met fynwol Dohne-Merino’s en Tuli-beeste boer, gaan kuier. Hy is die vierde geslag wat hier saam met sy vrou, Liz, wat haar eie spysenieringsonderneming bedryf, woon.

Plaaswerk in Australië

Ná sy militêre en naskoolse opleiding in die sestigerjare, het Doug in Australië gaan plaaswerk doen. “Ek wou boerdery-ondervinding opdoen en het geleer om op my eie voete te staan. Daar was nie arbeiders nie en ’n mens moes alles self doen.”

Sy eerste werkopdrag was om alleen 3 000 ooie bymekaar te maak en vir wurms te behandel. “Ek kon daardie dag nie meer as vyf skape behandel nie, bloot omdat ek net agter die skape aan rondgehardloop het.”

Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy op verskeie plase gewerk, waarna hy in 1977 saam met sy pa, David Stern, op die familieplaas begin boer het.

Volgens Doug is daar geen twyfel nie dat ’n ultra-hoëdruk-beweidingstelsel vir volhoubare veldherwinning sy boerdery van ondergang gered het.

 

Natuurlike hulpbronne onder druk

In dié stadium kon hulle slegs sowat 70% lammers van die ooie in die veld speen. “Die veld se voedingsgehalte en -hoeveelheid was nie in balans nie en ons natuurlike hulpbronne was onder geweldige druk. Ek het besef dat die boerdery tot niet sou gaan as ons nie ’n daadwerklike poging aanwend om dit reg te stel nie.”

Doug het in alle erns navorsing oor verskeie boerderymetodes begin doen, opsies teen mekaar opgeweeg, en tot die slotsom gekom dat een alternatief kop en skouers bo die res uitgestaan het.

“Allan Savory en Stan Parsons se ultra-hoëdrukbeweidingstelsel vir volhoubare veldherwinning en die bewyse dat dit doeltreffend is, het by my geen twyfel gelaat nie dat dit die pad vorentoe vir ons boerdery was.” Volgens dié holistiese benadering kan groot troppe vee op ’n natuurlike wyse vir kort tydperke in kampe wei voordat die diere na die volgende kamp geskuif word.

Natuurlike hoëdruk-wisselweiding was aanvanklik ’n vreemde konsep wat wêreldwyd en plaaslik met skeptisisme bejeën is. Die Sterns moes omtrent bontstaan om hul besluit vir holistiese wisselweiding op Rietpoort te regverdig. “Ons het vasgebyt, ten spyte van verskeie landboukundiges en die Grondbewaringskomitee se raad om nie dié metode toe te pas nie, en was nog nie een dag daaroor spyt nie.”

Konsekwente voedingswaardes

Die plaas moes in kleiner kampe verdeel word, sowat 36 kampe per kudde, en tans word die vee elke twee tot drie dae na vars weiding geskuif. Die waterpunte is so geplaas dat die vee te alle tye toegang daartoe het.

Terwyl ons in die veld ry, wys Doug en Liz verskeie spesies plante uit en word ons deur ruie plantegroei en selfs ’n groot bergskilpad in een van die kampe begroet. Hulle vertel hoe die veld verander het en dat nuwe grasveldspesies, sowel as plante eie aan die omgewing wat vir jare dormant was, nou floreer.

“Hierdie tipe wisselweiding is ’n konsep wat deur min mense verstaan word, terwyl die meeste nog konvensioneel boer. Dit is ’n wyse waarop ’n mens by die natuur aanpas en die plante se voedingsvlakke op ’n hoë peil gehou word,” verduidelik Doug.

Hy wys daarop dat vee wat vir lang tydperke in een kamp gehou word, al die smaaklike kos eerste opvreet. “Die minder lekker kos word laaste gevreet en dit is dan wanneer die voedingsvlakke van die veld begin daal. Dit is baie interessant dat die vee by wisselweiding ná twee of drie dae by die hek sal gaan staan om aan te beweeg.

Doug en Liz Stern by die twee “Maluti”-honde, wat saam met die skape grootgeword het en in die veld bly. Die twee honde, wat roofdiere in hul spore stuit, is in Lesotho geteel.

Beplanning en bestuur

Produksie op die plaas het die afgelope jare met sowat 50% toegeneem. Daarom kon hulle die plaas Quaggasvlei, wat groter as Rietpoort is, vir hul seun David koop. “Ek dink ons sukses as fynwolprodusente kan ook aan konsekwente voedingsvlakke toegeskryf word,” sê Doug.

Doug hou al sedert 1982 rekord van elke kamp op die plaas. Volgens hom is die bestuur van die boonste lagie grond uiters belangrik, want die wortelstelsel ly eerste daaronder as ’n mens jou veld nie reg benut nie.

Hy ken die sewe basiese beginsels van veldbestuur, wat in enige omgewing toegepas kan word, op die punte van sy vingers:

  • Pas weidingstye aan volgens die tempo van die plantegroei.
  • Pas jou veebelading aan volgens die veld se drakrag.
  • Beplan, monitor en beheer jou weiding.
  • Bestuur jou diere se doeltreffendheid.
  • Kort weidingstye versnel diere se produksievermoë.
  • Pas maksimum dieredigtheid toe vir ’n minimale tydperk.
  • Diversiteit van plante en diere verbeter ekologiese gesondheid.

Doug sê: “Die vee is voortdurend op ’n hoë voedingspeil, maar ons ‘stres’ nie ons plante nie omdat dit nie aan permanente of oorbeweiding blootgestel word nie. Laasgenoemde kom daarop neer dat ons nie toelaat dat die hergroei van plante afgevreet word voordat dit in die derde fase van die groeisiklus is nie. Indien dit sou gebeur, sal die wortelstelsel beskadig word en daarom word die vee so gereeld geskuif.”

Dividende danksy beginsels

Hul veld kon danksy jare se beplanning en veldbestuur vinnig herstel ná die reën wat aan die begin van die jaar geval het. “Sekere beginsels moet in plek wees, soos om jou syfers en jou omgewing goed te ken. As die natuur dan teen jou draai, het jy gebeurlikheidsplanne gereed, soos om veegetalle in ’n droogtetydperk betyds te begin afskaal.”

Doug voeg by: “Van veegetalle gepraat, ons het die vee in Mei 2017 drasties verminder, hoewel die veld te midde van ’n drie jaar lange uitmergelende droogte steeds binne die voorgeskrewe departementele maatstawwe was. As ons nie vroeg vanjaar reën gehad het nie, sou ons nog vee verminder het.

“Dit is noodsaaklik om ’n mens se kernkudde te behou, maar dit is amper belangriker om die diere dan in die bes moontlike produktiewe kondisie te hou.

“Dit lyk asof die jonger geslag produsente baie meer op die natuurlike bestuur van bronne ingestel is as voorheen. Onthou, een stappie in die regte rigting en die natuur beloon jou met verskeie positiewe resultate,” sê hy.

Vir meer inligting, kontak Doug Stern by 072 178 9811 of sft@gam.co.za.

 

Bron: AgriOrbit

Do NOT follow this link or you will be banned from the site!